3 Daar is ’n verbond tussen my en u, en tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur u silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek weg van my af.
4 En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte gestuur teen die stede van Israel, en hulle het Ijon en Dan en Abel-Máim en al die voorraadstede van Náftali verwoes.
5 En sodra Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak.
6 Toe neem koning Asa die hele Juda, en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou.
7 En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die Here u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.
8 Was die Kusiete en die Líbiërs nie ’n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die Here gesteun het;
9 want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.