1 EN Salomo het gedink om vir die Naam van die Here ’n huis te bou en ’n huis vir sy koningskap.
2 En Salomo het sewentigduisend lasdraers afgetel en tagtigduisend klipkappers op die gebergte en drieduisend-seshonderd opsigters oor hulle.
3 Toe laat Salomo Huram, die koning van Tirus, weet: Soos u aan my vader Dawid gedoen het deur aan hom seders te stuur, dat hy vir hom ’n huis kon bou om in te woon, doen dit ook aan my.
4 Kyk, ek gaan ’n huis bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te heilig — om voor sy aangesig reukwerk van speserye aan die brand te steek en die toonbrode gedurig reg te sit en die brandoffers smôrens en saans te bring op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye van die Here onse God — ’n ewige verpligting op Israel.
5 En die huis wat ek gaan bou, sal groot wees; want onse God is groter as al die gode.
6 Maar wie is in staat om vir Hom ’n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ’n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?