1 MAAR in die sewende jaar het Jójada moed geskep en saam met hom in ’n verbond geneem die owerstes oor honderd: Asárja, die seun van Jeróham, en Ismael, die seun van Jóhanan, en Asárja, die seun van Obed, en Maäséja, die seun van Adája, en Elisáfat, die seun van Sigri.
2 En hulle het in Juda rondgetrek en die Leviete vergader uit al die stede van Juda, en die familiehoofde van Israel; en hulle het na Jerusalem gekom.
3 En die hele vergadering het in die huis van God met die koning ’n verbond gesluit. Toe sê hy vir hulle: Kyk, die seun van die koning moet koning wees soos die Here oor die seuns van Dawid gespreek het.
4 Dit moet julle doen: ’n derde deel van julle wat op die sabbat inkom — van die priesters en Leviete — moet drumpelwagters wees;
5 en ’n derde deel by die huis van die koning, en ’n derde deel by die Fondamentpoort, en die hele volk in die voorhowe van die huis van die Here.
6 Maar niemand mag in die huis van die Here ingaan nie, behalwe die priesters en diensdoende Leviete; húlle mag ingaan, want hulle is heilig; maar die hele volk moet die verordening van die Here hou.