12 En die koning en Jójada het dit aan die uitvoerders van die werk aan die huis van die Here gegee, en dié het klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die Here te herstel, en ook yster- en kopersmede om die huis van die Here te verbeter.
13 En die uitvoerders van die werk was ywerig besig, sodat die herstellingswerk deur hulle hand gevorder het, en hulle het die huis van God herstel volgens sy oorspronklike bouplan en dit reggemaak.
14 En toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Jójada gebring, en hy het daarvan gereedskap laat maak vir die huis van die Here, diens- en offergereedskap en rookpanne en goue en silwervoorwerpe; en hulle was gedurigdeur besig om brandoffers te bring in die huis van die Here al die dae van Jójada.
15 En Jójada het oud geword en was afgeleef en het gesterwe; hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het.
16 En hy is begrawe in die stad van Dawid by die konings; want hy het goed gedoen in Israel teenoor God sowel as teenoor sy huis.
17 Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister,
18 en hulle het die huis van die Here, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ’n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle.