2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid gedoen het.
3 Hý het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel,
4 en die priesters en die Leviete laat inkom en hulle versamel op die Oosplein
5 en vir hulle gesê: Luister na my, Leviete! Heilig julle nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle vaders, en bring die onreinheid uit die heiligdom uit;
6 want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die Here afgewend en dit die rug toegekeer.
7 Ook het hulle die deure van die voorportaal toegesluit en die lampe doodgeblaas en geen reukwerk aan die brand gesteek en geen brandoffer in die heiligdom aan die God van Israel gebring nie.
8 Daarom het ’n toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het hulle ’n skrikbeeld, ’n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak, soos julle met jul eie oë sien.