7 en hy het agter hom omgekyk en my gesien en my geroep, en ek het gesê: Hier is ek.
8 Toe vra hy my: Wie is jy? En ek antwoord hom: Ek is ’n Amalekiet.
9 Daarop sê hy vir my: Kom staan tog by my en maak my van kant, omdat ’n duiseling my bevang het; want my lewe is nog heeltemal in my.
10 En ek het by hom gaan staan en hom van kant gemaak, want ek het geweet dat hy ná sy val nie sou leef nie; en ek het die kroon wat op sy hoof en die armband wat om sy arm was, geneem en dit hier na my heer gebring.
11 Toe gryp Dawid sy klere en skeur dit; net so al die manne wat by hom was.
12 En hulle het gerouklaag en geween en gevas tot die aand toe oor Saul en oor sy seun Jónatan en oor die volk van die Here en oor die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard geval het.
13 Verder sê Dawid aan die jongman wat hom die boodskap gebring het: Waar kom jy vandaan? En hy antwoord: Ek is die seun van ’n vreemde man, ’n Amalekiet.