1 EN daarna het dít gebeur. Absalom, die seun van Dawid, het naamlik ’n mooi suster gehad met die naam van Tamar, en Amnon, die seun van Dawid, was verlief op haar.
2 En Amnon het dit hom so aangetrek, dat hy siek was oor sy suster Tamar; want sy was ’n jongmeisie, en dit was in Amnon se oë onmoontlik om haar iets aan te doen.
3 Maar Amnon het ’n vriend gehad, met die naam van Jónadab, ’n seun van Dawid se broer Símea; en Jónadab was ’n baie skrander man.
4 En dié vra hom: Waarom lyk jy môre vir môre so bedruk, seun van die koning? Sal jy my dit nie te kenne gee nie? Toe sê Amnon vir hom: Ek is verlief op Tamar, die suster van my broer Absalom.
5 Toe sê Jónadab vir hom: Gaan lê op jou bed en hou jou siek. As jou vader dan kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog kom en my iets gee om te eet en die ete voor my oë klaarmaak, dat ek dit kan sien en uit haar hand eet.
6 En Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon aan die koning: Laat my suster Tamar tog kom en voor my oë twee koekies maak, dat ek uit haar hand kan eet.