2 het Joab na Tekóa gestuur en daarvandaan ’n skrander vrou laat haal en aan haar gesê: Stel jou tog aan soos een wat treur, en trek rouklere aan; en salf jou nie met olie nie, maar hou jou soos ’n vrou wat al baie dae rou oor ’n dode.
3 Gaan dan na die koning en spreek met hom volgens hierdie woord. En Joab het die woorde in haar mond gelê.
4 En die vrou uit Tekóa het by die koning ingekom en op haar aangesig op die grond geval en gebuig en gesê: Help, o koning!
5 Toe vra die koning haar: Wat wil jy hê? En sy sê: Voorwaar, ek is ’n weduwee en my man is dood.
6 En u dienares het twee seuns gehad, en hulle twee het met mekaar geveg in die veld; en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie, sodat die een die ander neergeslaan en hom gedood het.
7 En kyk, toe staan die hele geslag op teen u dienares, en hulle sê: Gee hom wat sy broer doodgeslaan het, dat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het, ja, ook die erfgenaam kan verdelg. So wil hulle dan my vuurkool wat oorgebly het, uitdoof om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem te laat bly nie.
8 En die koning antwoord die vrou: Gaan na jou huis, en ek sal oor jou bevel gee.