22 Daarop val Joab op sy aangesig op die grond en hy buig hom neer en seën die koning. En Joab sê: Vandag weet u dienaar dat ek guns in u oë gevind het, my heer die koning, omdat die koning die wens van sy dienaar uitvoer.
23 En Joab het hom klaargemaak en na Gesur gegaan en Absalom na Jerusalem gebring.
24 En die koning het gesê: Hy kan in sy huis intrek, maar my aangesig mag hy nie sien nie. En Absalom het in sy huis ingetrek, maar die aangesig van die koning nie gesien nie.
25 En in die hele Israel was daar geen man so mooi soos Absalom, so geprys nie: van sy voetsool af tot sy hoofskedel toe was daar geen gebrek aan hom nie.
26 En as hy sy hoof laat skeer — hy het dit naamlik aan die end van elke jaar laat skeer, omdat dit vir hom te swaar was, daarom het hy dit laat skeer — dan het die hare van sy hoof tweehonderd sikkels geweeg volgens die koninklike gewig.
27 En vir Absalom is drie seuns gebore en een dogter met die naam van Tamar, ’n vrou wat mooi van aansien was.
28 En Absalom het twee volle jare in Jerusalem gewoon sonder dat hy die aangesig van die koning gesien het.