8 En die koning antwoord die vrou: Gaan na jou huis, en ek sal oor jou bevel gee.
9 Daarop sê die vrou uit Tekóa aan die koning: Op my, my heer die koning, en op my familie sal die skuld rus, maar die koning en sy troon is onskuldig.
10 En die koning antwoord: Elkeen wat met jou spreek, moet jy na my bring, dan sal hy jou verder nie meer aanraak nie.
11 En sy sê: Laat die koning tog dink aan die Here u God, sodat die bloedwreker nie te veel vernieling aanrig en hulle my seun nie verdelg nie. Toe sê hy: So waar as die Here leef, nie een haar van jou seun sal op die grond val nie!
12 En die vrou vra: Laat u dienares tog ’n woord met my heer die koning spreek. En hy antwoord: Spreek.
13 Toe sê die vrou: Waarom het u dan so iets bedink teen die volk van God? Want daardeur dat die koning hierdie woord spreek, is hy soos ’n skuldige deurdat die koning sy eie verstotene nie laat terugkom nie.
14 Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ’n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie, maar Hy koester gedagtes om ’n verstotene nie van Hom af te stoot nie.