11 Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel.
12 Miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.
13 Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.
14 En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
15 INTUSSEN het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem aangekom, en Agitófel was by hom.
16 En net toe Húsai, die Arkiet, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê Húsai vir Absalom: Mag die koning leef, mag die koning leef!
17 Maar Absalom vra vir Húsai: Is dit jou liefde teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend getrek nie?