11 Maar ek raai aan: Laat die hele Israel van Dan tot Berséba, soos sand wat aan die seestrand is in menigte, voltallig by u versamel word; en u moet persoonlik in die stryd trek.
12 En as ons by hom kom in een van die plekke waar hy hom bevind, dan val ons op hom neer soos dou op die aarde val, sodat daar van hom en van al die manne wat by hom is, selfs nie een oorbly nie.
13 En as hy hom in ’n stad terugtrek, moet die hele Israel toue aanbring na daardie stad, en ons sal dit wegsleep na die spruit totdat daar selfs geen klippie meer te vinde is nie.
14 Toe sê Absalom en al die manne van Israel: Die raad van Húsai, die Arkiet, is beter as die raad van Agitófel. Maar die Here het dit beskik om die goeie raad van Agitófel te verydel, sodat die Here die onheil oor Absalom kon bring.
15 En Húsai het aan Sadok en Ábjatar, die priesters, gesê: So en so het Agitófel Absalom en die oudstes van Israel aangeraai, maar so en so het ek aangeraai.
16 Stuur dan nou gou, en laat Dawid weet: Vernag nie by die woestyndriwwe nie, maar trek sekerlik deur; anders word die koning en al die mense wat by hom is, vernietig.
17 Intussen het Jónatan en Ahímaäs by die fontein Rogel gestaan, terwyl ’n diensmeisie gaan om vir hulle berig te bring; hulle moes dan weer gaan en dit aan koning Dawid oorbring. Want hulle moes hulle nie laat sien deur in die stad in te gaan nie.