22 Maar Ahímaäs, die seun van Sadok, het nog ’n keer aan Joab gesê: Laat kom wat wil — laat my tog ook agter die Kusiet aan hardloop. En Joab vra: Waarom wil jy dan nou hardloop, my seun? Vir jou is daar tog geen boodskappersloon te kry nie.
23 Laat kom wat wil, sê hy, ek hardloop. En hy antwoord hom: Hardloop! En Ahímaäs het met die pad na die Jordaanstreek gehardloop en die Kusiet verbygegaan.
24 En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens ’n man alleen hardloop.
25 Toe het die wag uitgeroep en dit aan die koning meegedeel. En die koning sê: As hy alleen is, dan is daar ’n goeie boodskap in sy mond. Terwyl hy al nader en nader kom,
26 sien die wag ’n ander man hardloop; en die wag het die poortwagter toegeroep en gesê: Kyk, daar hardloop nog ’n man alleen. Daarop sê die koning: Hy bring ook ’n goeie boodskap.
27 Verder het die wag gesê: Ek sien die gang van die eerste is soos die gang van Ahímaäs, die seun van Sadok. Toe sê die koning: Hy is ’n goeie man, en hy kom met ’n goeie boodskap.
28 En Ahímaäs het uitgeroep en aan die koning gesê: Vrede! En hy het hom voor die koning gebuig met sy aangesig na die aarde en gesê: Geloofd sy die Here u God wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.