1 EN aan Joab is meegedeel: Kyk, die koning ween en bedryf rou oor Absalom.
2 En daardie dag het die oorwinning vir die hele volk ’n roubedryf geword, omdat die volk dié dag hoor sê het: Die koning is bedroef oor sy seun.
3 Daarom het die volk dié dag stilletjies die stad ingekom, net soos mense wat skaam is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het.
4 En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!
5 Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het,
6 deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het.
7 Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer by die Here — as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en dit sal vir u ’n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u jeug af tot nou toe.