1 EN daar was by geval ’n deugniet met die naam van Seba, die seun van Bigri, ’n Benjaminiet — hy het op die ramshoring geblaas en gesê: Ons het geen deel aan Dawid, en ons het geen erfdeel aan die seun van Ísai nie: elkeen na sy tente toe, o Israel!
2 Daarop trek al die manne van Israel van Dawid af weg, agter Seba, die seun van Bigri, aan; maar die manne van Juda het hulle koning aangehang van die Jordaan af tot by Jerusalem.
3 Toe Dawid in sy huis in Jerusalem kom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy laat agterbly het om die huis op te pas, geneem en in ’n bewaakte huis gesit en hulle onderhou, maar nie by hulle ingegaan nie; en hulle was opgesluit tot die dag van hulle dood as lewenslange weduwees.
4 Daarna sê die koning aan Amása: Roep vir my die manne van Juda binne drie dae byeen; kom staan jy dan hier.
5 En Amása het gegaan om Juda byeen te roep, maar het langer weggebly as die bepaalde tyd wat hy vir hom vasgestel het.