1 EN dit is die laaste woorde van Dawid: Dawid spreek, die seun van Ísai, en die man wat hoog geplaas was, spreek, die gesalfde van die God van Jakob en die lieflike in die sange van Israel:
2 Die Gees van die Here spreek in my, en sy woord is op my tong.
3 Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ’n Heerser oor mense, ’n regverdige, ’n heerser in die vrees van God,
4 is soos die môrelig by sonsopgang, ’n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.
5 Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het ’n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?
6 Maar deugniete, hulle almal is soos weggegooide dorings, want ’n mens vat dit nie met die hand nie;
7 en elkeen wat hulle wil aanraak, wapen homself met ’n yster of die steel van ’n spies, en met vuur word hulle op daardie plek heeltemal verbrand.