4 is soos die môrelig by sonsopgang, ’n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.
5 Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het ’n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?
6 Maar deugniete, hulle almal is soos weggegooide dorings, want ’n mens vat dit nie met die hand nie;
7 en elkeen wat hulle wil aanraak, wapen homself met ’n yster of die steel van ’n spies, en met vuur word hulle op daardie plek heeltemal verbrand.
8 DIT is die name van die helde wat Dawid gehad het: Joseb-Bassebet, ’n Tagkemoniet, die hoof van die adjudante; hy was Adino, die Esniet, teen agthonderd wat op een keer gesneuwel het.
9 En ná hom was Eleásar, die seun van Dodo, die Ahohiet, onder die drie helde by Dawid; toe hulle die Filistyne uitgedaag het wat daar bymekaar was om te veg, en die manne van Israel weggetrek het,
10 het hy opgestaan en onder die Filistyne geslaan totdat sy hand moeg geword en sy hand aan die swaard gekleef het, sodat die Here daardie dag ’n groot oorwinning bewerk het. En die manskappe het teruggekom agter hom aan net om te buit.