7 En hulle het gekom by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en hulle het uitgekom in die suide van Juda in Berséba.
8 So het hulle dan deur die hele land rondgetrek en in Jerusalem aangekom aan die einde van nege maande en twintig dae.
9 En Joab het die getal van die getelde volk aan die koning gegee; en Israel was agthonderdduisend weerbare manne wat die swaard uittrek, en die manne van Juda vyfhonderdduisend man.
10 Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die Here gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; Here, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.
11 Toe Dawid die môre opstaan — die woord van die Here het naamlik tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê:
12 Gaan heen en spreek met Dawid: So sê die Here: Drie dinge lê Ek jou voor; kies vir jou een daaruit, dat Ek jou dit kan aandoen —
13 toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my Sender moet bring.