32 Toe hulle Abner in Hebron begrawe, het die koning sy stem verhef en geween by die graf van Abner; die hele volk het ook geween.
33 En die koning het ’n klaaglied oor Abner aangehef en gesê: Moes Abner sterwe soos ’n dwaas sterwe?
34 Jou hande was nie gebind en jou voete nie aangeraak met koperkettings nie. Soos ’n mens voor kwaaddoeners val, het jy geval. En die hele volk het nog meer oor hom geween.
35 Daarop kom die hele volk om Dawid te beweeg dat hy brood moet eet terwyl dit nog dag was; maar Dawid het gesweer en gesê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as ek voor sonsondergang brood of enigiets proe.
36 En die hele volk het dit opgemerk, en dit was goed in hulle oë: soos alles wat die koning gedoen het, was dit goed in die oë van die hele volk.
37 En die hele volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van die koning gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie.
38 Verder het die koning aan sy dienaars gesê: Weet julle nie dat vandag ’n vors en ’n groot man in Israel geval het nie?