1 TOE kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron, en hulle spreek en sê: Hier is ons, u been en u vlees is ons!
2 Gister sowel as eergister toe Saul koning oor ons was, het ú Israel uit- en ingelei; en die Here het aan u gesê: Jý moet my volk Israel oppas, en jý moet ’n vors wees oor Israel.
3 So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het met hulle ’n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die Here, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf.
4 Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer.
5 In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.
6 Toe die koning met sy manne na Jerusalem wegtrek teen die Jebusiete, die bewoners van die land, het hulle met Dawid gespreek en gesê: Jy sal hier nie inkom nie, maar die blindes en lammes sal jou verdrywe — dit wil sê: Dawid sal hier nie inkom nie.
7 Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid.