4 Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer.
5 In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.
6 Toe die koning met sy manne na Jerusalem wegtrek teen die Jebusiete, die bewoners van die land, het hulle met Dawid gespreek en gesê: Jy sal hier nie inkom nie, maar die blindes en lammes sal jou verdrywe — dit wil sê: Dawid sal hier nie inkom nie.
7 Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid.
8 En Dawid het daardie dag gesê: Elkeen wat ’n Jebusiet verslaan, laat hom in die waterkanaal neerwerp die lammes sowel as die blindes, van wie Dawid se siel ’n afkeer het! Daarom sê hulle: ’n Blinde en ’n lamme mag nie in die huis kom nie.
9 En Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem; en Dawid het rondom, van Millo af na die binnekant, gebou.
10 En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die Here, die God van die leërskare, was met hom.