17 Nadat hulle dan die ark van die Here ingebring en dit op sy plek neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het Dawid brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van die Here.
18 Toe Dawid gereed was met die brandoffer en dankoffers, het hy die volk in die Naam van die Here van die leërskare geseën
19 en aan die hele volk, die hele menigte van Israel, manne sowel as vroue, aan elkeen een broodkoek en een stuk vleis en een rosynekoek uitgedeel. Daarop het die hele volk elkeen na sy huis gegaan.
20 Toe Dawid terugkom om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid tegemoetgegaan en gesê: Hoe het die koning van Israel homself vandag geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot!
21 Maar Dawid sê vir Migal: Voor die aangesig van die Here wat my verkies het bo jou vader en bo sy hele huis, deur my as vors aan te stel oor die volk van die Here, oor Israel — ja, voor die aangesig van die Here sal ek vrolik wees!
22 En ek sal my nog geringer ag as dit — ek sal nederig wees in my eie oë en met die slavinne van wie jy gepraat het, met hulle sal ek myself eer.
23 En Migal, die dogter van Saul, het tot die dag van haar dood geen kind gehad nie.