2 en Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van Báäle-Juda, om die ark van God, waaroor die Naam uitgeroep is, die Naam van die Here van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan te gaan haal.
3 En hulle het die ark van God op ’n nuwe wa vervoer en dit uit die huis van Abinádab, wat op die heuwel is, gebring. Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van Abinádab, die wa drywe,
4 met die ark van God, het Agjo voor die ark geloop.
5 En Dawid en die hele huis van Israel het voor die aangesig van die Here gespeel met allerhande instrumente van sipreshout, naamlik met siters en harpe en tamboeryne, en bekkens en simbale.
6 En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.
7 Daarop het die toorn van die Here teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.
8 En Dawid het ontroerd geword, omdat die Here ’n skeur aan Ussa geskeur het; daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe.