1 EN Dawid het gesê: Is daar nog iemand oor van die huis van Saul, dat ek aan hom guns kan bewys ter wille van Jónatan?
2 En die huis van Saul het ’n dienaar gehad, met die naam van Siba; en hulle het hom na Dawid geroep, en die koning het hom gevra: Is jy Siba? Toe antwoord hy: U dienaar!
3 En die koning vra: Is daar nie nog iemand van die huis van Saul, dat ek die guns van God aan hom kan bewys nie? Toe sê Siba aan die koning: Daar is nog ’n seun van Jónatan, wat lam is aan altwee voete.
4 En die koning vra hom: Waar is hy? Toe sê Siba aan die koning: Kyk, hy is in die huis van Magir, die seun van Ámmiël, in Lódebar.
5 Daarop het koning Dawid gestuur en hom laat haal uit die huis van Magir, die seun van Ámmiël, uit Lódebar.