18 maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.
19 Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.
20 En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi.
21 Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi.
22 Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand.
23 Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval.
24 Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning!