27 Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.
28 Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom.
29 Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel,
30 het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?
31 Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem;
32 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar — hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.