2 Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd-en-twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees;
3 en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.
4 Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ’n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.
5 Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.
6 Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.
7 Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en só vir hom gesê: Mag koning Daríus vir ewig lewe!
8 Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ’n verordening moet uitvaardig en ’n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.