20 Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan.
21 En toe hy nader kom na die kuil, het hy met ’n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?
22 Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe!
23 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.
24 Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ’n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.
25 En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.
26 Toe het koning Daríus aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!