9 en jy moet kom na die Levitiese priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees, en jy moet uitvra; dan sal hulle jou die geregtelike uitspraak te kenne gee.
10 En jy moet handel ooreenkomstig die uitspraak wat hulle jou te kenne sal gee, uit dié plek wat die Here sal uitkies; en jy moet sorgvuldig doen net soos hulle jou sal leer.
11 Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die regspraak wat hulle jou sê, moet jy handel; jy mag nie regs of links afwyk van die uitspraak wat hulle jou te kenne gee nie.
12 En die man wat vermetel handel, dat hy nie luister na die priester wat staan om daar die Here jou God te dien, of na die regter nie — dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
13 En die hele volk sal dit hoor en vrees en nie meer vermetel handel nie.
14 As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ’n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,
15 dan moet jy sekerlik ’n koning oor jou aanstel wat die Here jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ’n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.