21 Die Here sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
22 Die Here sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom.
23 En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.
24 Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.
25 Die Here sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug — en jy sal ’n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word.
26 En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
27 Die Here sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie.