57 ook haar nageboorte wat tussen haar voete uitgaan, en haar kinders wat sy sal baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.
58 As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie,
59 dan sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes;
60 en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.
61 Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die Here teen jou laat opkom totdat jy verdelg is.
62 En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God nie.
63 En soos die Here oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die Here oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.