23 En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jý sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ’n eed beloof het; en Ek sal met jou wees.
24 En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het tot die einde toe,
25 het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die Here gedra het, bevel gegee en gesê:
26 Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die Here julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.
27 Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die Here — hoeveel te meer dan ná my dood!
28 Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem.
29 Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg.