11 Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels —
12 die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
13 Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;
14 dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.
15 Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
16 Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.
17 Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.