21 En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie — na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
22 Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ’n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.
23 En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes,
24 en gesê: Kyk, die Here onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.
25 Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die Here onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.
26 Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?
27 Gaan ú naderby en hoor alles wat die Here onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die Here onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.