11 En aan die einde van veertig dae en veertig nagte het die Here my die twee kliptafels gegee, die tafels van die verbond,
12 en die Here het vir my gesê: Staan op, klim hiervandaan gou af, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het verderflik gehandel; hulle het gou afgewyk van die weg wat Ek hulle beveel het; hulle het vir hulle ’n gegote beeld gemaak.
13 Verder het die Here met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en kyk, dit is ’n hardnekkige volk.
14 Laat My staan dat Ek hulle verdelg en hulle naam onder die hemel uitdelg; en Ek sal jou ’n nasie maak wat magtiger is en meer as hulle.
15 Daarop het ek omgedraai en van die berg afgeklim terwyl die berg met vuur brand, en die twee tafels van die verbond was in my twee hande.
16 Toe sien ek dat julle waarlik teen die Here julle God gesondig het; julle het vir julle ’n gegote kalf gemaak; julle het gou afgewyk van die weg wat die Here julle beveel het.
17 En ek het die twee tafels gegryp en dit uit my twee hande gegooi en dit voor julle oë verbrysel.