11 Gee dan nou aan die Here, die God van julle vaders, die eer en doen wat Hom behaag en sonder julle af van die volke van die land en van die vreemde vroue.
12 Toe antwoord die hele vergadering en sê hardop: Só, volgens u woorde, is ons verplig om te handel;
13 maar die mense is baie, en dit is die reëntyd — dit is onmoontlik om buite te staan; en dit is nie ’n werk van een dag en nie van twee nie, want ons het in hierdie saak swaar oortree.
14 Laat tog ons owerstes vir die hele vergadering optree, dan kan almal in ons stede wat vreemde vroue getrou het, op vasgestelde tye kom, en die oudstes en die regters van elkeen se stad saam met hulle, om die toorngloed van onse God, wat hierdie saak betref, van ons af te wend.
15 Net Jónatan, die seun van Ásahel, en Jagséja, die seun van Tikwa, het hierteen opgetree, en Mesúllam en die Leviet Sábbetai het hulle gesteun.
16 Maar die seuns van die ballingskap het so gedoen; en afgesonder is: Esra, die priester, saam met manne, familiehoofde volgens hulle families, en hulle is almal by hul naam genoem; en hulle het op die eerste dag van die tiende maand sitting gehou om die saak te ondersoek,
17 en met al die manne wat vreemde vroue getrou het, was hulle gereed op die eerste dag van die eerste maand.