1 EN toe die sewende maand aankom en die kinders van Israel in die stede was, het die volk soos een man in Jerusalem byeengekom.
2 En Jésua, die seun van Jósadak, met sy broers, die priesters, en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak en die altaar van die God van Israel gebou om daar brandoffers op te offer soos geskrywe staan in die wet van Moses, die man van God.
3 En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die Here, brandoffers smôrens en saans.
4 En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was;
5 en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die Here en van elkeen wat aan die Here ’n vrywillige gawe gebring het.
6 Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die Here te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die Here nog nie gelê was nie.
7 Maar hulle het geld gegee aan die klipkappers en die skrynwerkers, en aan die Sidoniërs en Tiriërs voedsel en drank en olie om sederhout van die Líbanon te bring na die see, na Jafo, volgens die verlof van Kores, die koning van Persië, aan hulle.