6 En onder die regering van Ahasvéros, in die begin van sy regering, het hulle ’n aanklag geskrywe teen die inwoners van Juda en Jerusalem.
7 En in die dae van Artasásta het Bislam, Mítredat, Tábeël en sy ander partygenote aan Artasásta, die koning van Persië, geskrywe; en die skrif van die brief was Aramees geskrywe en in Aramees vertaal.
8 Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, het ’n brief geskrywe teen Jerusalem aan Artasásta, die koning, van die volgende inhoud:
9 Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote, die Dinaïete, die Afarsatgiete, die Tarpeliete, die Afarsiete, die Arkewiete, die Babiloniërs, die Susangiete, naamlik die Elamiete,
10 en die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaría en die orige gebied wes van die Eufraat laat woon het. En nou —
11 dit is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: Aan koning Artasásta, u dienaars, die manne wes van die Eufraat. En nou —
12 aan die koning word bekend gemaak dat die Jode wat van u af na ons opgetrek het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die rebelse en slegte stad op te bou: die mure voltooi hulle en die fondamente herstel hulle.