8 Aan die koning word bekend gemaak dat ons na die provinsie Juda, na die huis van die grote God, gegaan het; en dit word van groot klippe gebou, en hout word teen die mure gelê, en daardie werk word sorgvuldig gedoen en vorder goed onder hulle hande.
9 Toe het ons daardie oudstes gevra; só het ons aan hulle gesê: Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur te voltooi?
10 Verder het ons vir hulle ook hul name gevra om u bekend te maak, dat ons die name van die manne wat aan hul hoof staan, kan skrywe.
11 En hulle het ons die volgende antwoord gegee en gesê: Ons is knegte van die God van hemel en aarde, en ons bou die huis wat baie jare gelede gebou is, wat ’n groot koning van Israel gebou en voltooi het.
12 Maar omdat ons vaders die God van die hemel vertoorn het, het Hy hulle oorgegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, die Chaldeër; hy het hierdie huis verwoes en die volk na Babel weggevoer.
13 Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babel, het koning Kores bevel gegee om hierdie huis van God te bou.
14 En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en in die tempel van Babel gebring het, dit het koning Kores uit die tempel van Babel uitgehaal, en dit is oorhandig aan een, met die naam van Sésbassar, wat hy as goewerneur aangestel het;