6 En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees — soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.
7 Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ’n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die Here hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?
8 Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die Here julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan?
9 En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ’n fees vir die Here hou.
10 Toe sê hy vir hulle: Mag die Here só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ’n verkeerde ding voor oë.
11 Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die Here, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.
12 Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.