25 En as julle in die land kom wat die Here aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou.
26 En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar?
27 dan moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.
28 En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die Here Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
29 En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.
30 Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ’n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.
31 Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die Here soos julle gespreek het.