37 En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders.
38 En ’n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste — ’n groot hoeveelheid vee.
39 En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie.
40 En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar.
41 En ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die Here uit Egipteland uitgetrek.
42 Dit is ’n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die Here, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die Here om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte.
43 VERDER het die Here aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie.