15 Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die Here al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die Here alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los.
16 En dit sal as ’n teken wees op jou hand en ’n voorhoofsband tussen jou oë; want die Here het ons deur ’n sterke hand uit Egipte uitgelei.
17 TOE Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.
18 Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek.
19 En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal eindelik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op.
20 So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn.
21 En die Here het voor hulle uitgetrek, bedags in ’n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ’n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek.