6 Daarop het hy sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem.
7 En hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem en al die ander strydwaens van Egipte, en die beste vegsmanne op elkeen daarvan.
8 En die Here het die hart van Farao, die koning van Egipte, verhard, sodat hy die kinders van Israel agtervolg het. Maar die kinders van Israel het deur ’n hoë hand uitgetrek.
9 En die Egiptenaars het hulle agtervolg — al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag — en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon.
10 Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die Here geroep.
11 En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?
12 Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.