15 Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
16 Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was hulle stom soos ’n klip, terwyl u volk deurtrek, Here, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het.
17 U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o Here, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het, o Here!
18 Die Here sal regeer vir ewig en altoos.
19 Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en die Here het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.
20 En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ’n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.
21 En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.