16 Dit is die saak wat die Here beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte: ’n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem vir die wat in sy tent is.
17 En die kinders van Israel het so gedoen: hulle het ingesamel, die een baie en die ander min.
18 Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min nie. Elkeen na sy behoefte het hulle ingesamel.
19 En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie.
20 Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.
21 En hulle het dit môre vir môre ingesamel, elkeen na sy behoefte; en as die son warm word, smelt dit weg.
22 En op die sesde dag het hulle ’n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel.