1 TOE die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
2 En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.
3 Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring.
4 En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ’n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die Here.
6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
7 Toe sê die Here vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.