10 En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent.
11 Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ’n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ’n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.
12 Toe het Moses met die Here gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar Ú laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind.
13 As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.
14 En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?
15 Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.
16 Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.