6 Toe het die kinders van Israel hulleself beroof van hul versiersels, van die berg Horeb af.
7 En Moses het elke keer ’n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die Here wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was.
8 En as Moses uitgaan na die tent, staan die hele volk op en gaan elkeen aan die ingang van sy tent staan. Dan kyk hulle Moses agterna tot hy in die tent ingegaan het.
9 En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses.
10 En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent.
11 Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ’n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ’n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.
12 Toe het Moses met die Here gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar Ú laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind.