17 Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.
18 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.
19 Alles wat die moederskoot open, is myne; ook al jou vee wat manlik is, die eerstelinge van beeste en kleinvee.
20 Maar die eersteling van ’n esel moet jy met ’n lam loskoop; en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop, en niemand mag met leë hande voor my aangesig verskyn nie.
21 Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.
22 Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koringoes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar.
23 Al jou manspersone moet drie maal in die jaar voor die aangesig van die Here Here, die God van Israel, verskyn.